NATALIE KRY HARIGE 'OEFENMAAT' UIT BFN
Liesl Pretorius
DIE Suid-Afrikaanse swemsensasie Natalie du Toit se nuwe harige "oefenmaat" word straks na Bloemfontein genoem.
Du Toit het die afgelope naweek op besoek aan Bloemfontein gehoor sy kry 'n jong bokserteef van die Vrystaatse Sportmediavereniging.
Haar 11 maande oue bokser, Rusty, is vroeër vanjaar weens 'n genetiese afwyking dood terwyl Du Toit in Skotland was.
Omdat die nuwe tefie se naam,as lid van die tweede werpsel van die teler, met die letter "b" moet begin, oorweeg Du Toit die naam "Bloemie".
Du Toit het Saterdag by mev. Enid Rhodes, tesourier van die Sportmediavereniging en ondervoorsitter van die Federasie van Bokserklubs van Suider-Afrika, gekuier om reëlings te tref vir die "oorhandiging" van dié hond, wat nou in Pretoria is.
Rhodes se bokser Scampi, wat aanvanklik 'n paar happe in Du Toit se rigting gegooi het om sy ounooi te "beskerm", was minute la ter die ene oë.
"Jy moet vir die kamera kyk," moes Du Toit Scampi namens Volksblad se fotograaf paai.
Du Toit sê sy en Rusty was onafskeidbaar. Sy was selfs by met swemgalas. "Honde is vir my belangrik. Hulle is 'n mens se lewe."
Haar nuwe hond sal waarskynlik teen die eerste week in Desember by die Du Toit-huis in Kaapstad aankom.
Dié twee sal tyd hê om mekaar te leer ken, aangesien Du Toit die eerste keer weer in April sal meeding om vir die Olimpiese Spele in At hene, Griekeland, te kwalifiseer.
Intussen moet sy haar universiteitseksamen voltooi. Du Toit studeer B.Sc. met genetika en fisiologie as hoofvakke.
"Ek wil my eie liggaam (ná haar ongeluk in 2001) beter verstaan," sê sy oor laasgenoemde vakkeuse. Du Toit het haar linkerbeen verloor, nadat sy deur 'n motor van haar bromfiets af gestamp is.
Du Toit het die Vrystaatse Sportmediavereniging se banket Vrydag as benoemde in die kategorie Suid-Afrikaanse Sportvrou van die Jaar bygewoon.

FOTO: GERHARD LOUW
DIE Kaapse swemmer Natalie du Toit (links) en mev. Enid Rhodes, ondervoorsitter van die Federasie van Bokserklubs van Suider-Afrika, deel 'n voorliefde vir bokserhonde. Du Toit, wie se bokserteef vroeër vanjaar dood is, het pas in Bloemfontein gehoor sy kry 'n nuwe hond. By hulle is een van Rhodes se boksers, Scampi.
The Federation of Boxer Clubs would like to thank the Volksblad Newspaper for permission to reproduce this article.
